OUR SPONSOR:

Die Veelsydigheid van die SA Boerperd

Author: SA Boerperd Date Published: 25 August 2015

Die SA Boerperd is die perd vir Suid-Afrika. Die DNS, konformasie en keuringsproses van die perd is die sleutel tot sukses van die vooruitgang van die ras. Die SA Boerperd het hierdie veelsydigheidseienskap deur geslagte heen saamgebring. Waar hy in die verlede ‘n werksperd en vervoermiddel was, is die eise wat vandag aan die SA Boerperd gestel word baie meer op die sportarena gerig.

Die SA Boerperd as atleet

As dit dan die sportarena is waarheen die fokus verskuif het, is dit nou nodig om die eienskappe te ondersoek waaraan ‘n goeie atletiese sportperd moet voldoen. Die aktiwiteite waarin die SA Boerperd uitblink, sluit in spring, dressuur, driefase, skou, vertoonry (performance riding), saalsit (saddle seat), pensteek, Western Games, uithouritte, enkeltuig, dubbeltuig,driegang, vyfgang, skolesport en plesierritte.

Temperament

Die SA Boerperd is bekend vir sy uitstekende temperament, wat beteken dat ’n sterk vertrouensverhouding tussen ruiter en perd baie maklik ontstaan. Die perde is kalm, ambisieus, wakker, intelligent en
gewillig om te dien. Daar word sterk vir hierdie eienskappe geselekteer as telers hul teeldiere identifiseer.

Atletiese vermoë

Moderne perdesport vereis ’n baie atletiese perd en die eienskappe waarvoor die SA Boerperd bekend is, is ’n simmetriese, afgeronde dier met goeie, gebalanseerde beweging wat soepel genoeg is om vinnig spoed te kan wissel en van rigting kan verander, en wat adellik in voorkoms is.

Beweging

Die beweging van die SA Boerperd is van kardinale belang vir die ras. Goeie beweging bestaan uit matige hoë, lang, veerkragtige treë wat grond dek. Die perd is in staat om sy agterbene goed onder sy lyf
in te werk en sy gewig van die voorkwart weg te neem. Al vier bene moet spoor, wat beteken dat die bene reguit vorentoe beweeg wanneer dit van agter of voor gesien word. Balans met ’n trotse houding is kardinaal in al die gange.

Die werkperd

Die SA Boerperd word al vir dekades lank op plase as werk- en veeperde gebruik. Vandag word die ras ook vir patrollering op wildplase en vir plesierritte gebruik. Die ras is uiters geskik vir die wildbedryf omdat die
perd so dapper is en maklik vreemde wild aanvaar. Die SA Boerperd word ook deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens gebruik.

Versorging

Die SA Boerperd is bekend daarvoor dat hy maklik is en minder sorg nodig het, in vergelyking met sommige van sy Europese eweknieë. Dit beteken egter nie dat hy sonder versorging optimaal sal funksioneer nie.
Goeie versorging is ’n belegging waarvan die dividende dubbel en dwars die moeite werd is. ’n Span goeie, goedversorgde perde vertel ’n baie duidelike storie van die ras en die eienaar.

Keuring

Die SA Boerperd Telersgenootskap gebruik die afgelope drie dekades ’n keuringstelsel om die Boerperd te veredel en die rasstandaard hoog te hou. Die jong perd word van twee-en-’n-halfjarige ouderdom voor
’n paneel keurders gebring om te bepaal of hy aan die rasstandaard voldoen. Alle perde wat goedgekeur en vir teling gebruik word, se DNS-profiele word by Unistel in Stellenbosch gehou.

COPYRIGHT 2024 © SABoerperd.