OUR SPONSOR:

SA Boerperd Ererol 50 Jaar Trofees / SA Boerperd Honor Roll 50 Year Trophies

JURUST SA BOERPERD STOET

 

Die Jurust Stoet is in Mei 1975 geregistreer deur Jacobus Johannes Uys:  Koos soos ons hom ken. In 2025  is hy reeds vir 50 jaar die alleen-eienaar van die stoet – ‘n merkwaardige prestasie. In die 50 jaar se bestaan van die stoet, het Koos homself bekwaam as SA Boerperd beoordelaar en keurder. Hy was ook as raadslid verkies.

 

Die Jurust stoet is al vir 50 jaar gesetel op hulle pragtige plase in die Vryheid distrik. Dit is daar waar Koos sy passie vir genetika, spesifiek t.o.v. die voortdurende verbetering van moederlyne, toepas. Sy teelmerries se gradering is vir hom van kardinale belang en die belangrikste skakel vir die teling van talentvolle perde vir die toekoms.

 

Jurust perde word gereeld in skouarenas landwyd gesien. Hulle is veelsydig, en neem deel in ʼn verskeidenheid perdry-dissiplines. In 1982 het Ondersteport navorsing op 14 van hulle perde t.o.v. hulle spesifieke immuniteit teen perdesiekte en bosluiskoors gedoen – 13 uit 14 perde was immuun bevind.

 

Saam met Koos Uys Junior, bestaan Koos se span uit Mariaan wat hoofsaaklik die administratiewe sy van die telery hanteer en Danell Theron die bemarking en dikwels ruiter.

 

Vandag gaan die stoet nog steeds van krag tot krag.

JURUST v.l.n.r.: Danelle Theron; Koos Uys; Mariaan Theron.

CALELA SA BOERPERD STOET

 

 

Die Calela SA Boerperd Stoet is in Mei 1975 geregistreer deur Carel en Martie Jacobsz as gesamentlike eienaars. Na Oom Carel se afsterwe, bly Tannie Martie tot haar afsterwe ‘n lewenslid van die Genootskap onder die geregistreerde naam van die Jacobsz familie.Oom Carel Jacobsz was 26 jaar ‘n raadslid, waarvan hy 6 jaar president was. Hy was ook keurder en beoordelaar. Buiten haar 50 jaar as lid van die Genootskap, was Tannie Martie ook 20 jaar die sekretaresse van die SA Boerperd Telersgenootskap  –  die langs-dienende sekretaresse in die geskiedenis van die SA Boerperd Telersgenootskap.  Sedert 2014 dien Jannie Jacobsz op die Raad van die SA Boerperd Telersgenootskap.

 

Die Calela stoet is gesetel in die Davel distrik, Mpumalanga. Vanaf hul registrasie, was hulle doelwit om goeie perde te teel. Die stoet is in 2003, 2004, 2007, 2018 en 2023 deur SA Stamboek genomineer as beste perdestoet, alle rasse ingesluit. In 2007 wen hulle die prestige toekenning en in 2023 tree hulle as naaswenners uit die stryd.

 

 

Calela perde is gewild en daar gaan nie ‘n skou verby sonder Calela perde wat skitter nie. Hulle is alom bekend as skouperde, plesierperde en werksperde. Perde is in die Jacobsze se bloed.

CALELA v.l.n.r.: Simoné Jacobsz; Madelein Jacobsz; Jannie Jacobsz (Jnr); Martie Jacobsz; Jannie Jacobsz (Snr.)

SA Boerperd Ererol Klasse / SA Boerperd Honor Roll Classes

Related Documents

# Name

Description

*.pdf Format (123.00 KB)

COPYRIGHT 2024 © SABoerperd.